WAAR SAL ONS WYSHEID VIND?

WYSHEID EN ONDERSKEIDINGSVERMOË
May 17, 2021
WYSHEID EN RESPEK
March 8, 2024
WYSHEID EN ONDERSKEIDINGSVERMOË
May 17, 2021
WYSHEID EN RESPEK
March 8, 2024

Verlede Sondag het die oorlog in die Midde-Ooste ’n klein weerklank gevind hier in Seepunt, op die Promenade, wat normaalweg ’n plek van rus en vrede, van saambestaan is. ‘n Groep Christene en Jode wou saamkom om te bid vir Israel. ‘n Ander groep het betoog tot steun van die Palestyne. Uiteindelik moes die polisie ingryp om die eerste groep te beskerm teen die tweede een. 

Die oorlog in Gaza het behoorlik die gemoedere gaande. Aan die een kant kry jy die ondersteuners van Israel, wat wys op Hamas se geweldpleging en hulle begeerte om Israel tot niet te maak. Aan die ander kant kry jy die ondersteuners van die Palestyne, wat praat van ’n volksmoord in Gaza en wat wys op die jare lange onreg wat teen die Palestyne gepleeg is. In hierdie geskil, of só ervaar ek dit, is daar min ruimte daarvoor dat mense na mekaar wil luister. Spreek jy jou bedenkinge uit oor Hamas, sê mense sommer jy is pro-Israel. Vra jy kritiese vrae oor die Israeli’s se optrede, dink mense jy is nie net anti-Israel nie, maar anti-semities.

Ek het verlede Sondag gedink: as ‘n konflik so ver van ons die gemoedere op die Promenade gaande kan maak, hoe moet dit dan nie wees om in Israel en in Gaza self te wees nie? Watter hoop is daar dat daar ooit, ooit ’n uitweg uit die oorlog sal kom?

Dit het my laat wonder: Waar behoort ons, as Suid-Afrikaanse Christene, in hierdie stryd te staan?

Ek glo die antwoord op hierdie vraag verg baie, baie wysheid van ons. Ek het daarom besluit om ons gemeente se nuwe blog hiermee te begin, met die vraag: Waar sal ons wysheid vind?  Wat beteken die strewe na wysheid in ’n wêreld van harde konflik, van oorlog en geweld en onreg?

Hier is ’n eerste antwoord: wysheid begin met die nederige erkenning van alles wat ek nié weet nie. Ek weet eenvoudig nie wat dit is om ’n ma in Gaza te wees wat haar kindjie se liggaam na ’n bomaanval vashou nie. Ek weet ook nie wat dit is om ’n Israeli te wees wat snags wakker lê omdat sy bejaarde ma ’n gyselaar van Hamas is nie. Daar is baie, só baie oor hierdie konflik wat ons nie weet nie. 

Wysheid is om dit te erken. Dit is nie om jou skouers op te haal en standpuntloos of onverskillig te wees omdat jy so min weet nie. Maar dit is ten minste om te erken dat jy ontsettend baie dinge oor die situasie nie weet nie. En dat dit gevaarlik is om te maak asof jy weet, asof jy so pas ’n kitskenner van die situasie geword het wat presies die regte oordeel kan maak.

Dié erkenning is net die eerste tree op die pad van wysheid, maar dis ’n noodsaaklike tree. Volgende week skryf ek oor hoe ek dink ’n volgende tree dalk kan lyk.

 

geskryf deur: Andries Cilliers