WYSHEID EN ONDERSKEIDINGSVERMOË

WYSHEID EN MY MORELE KOMPAS
May 14, 2021
WAAR SAL ONS WYSHEID VIND?
May 17, 2021
WYSHEID EN MY MORELE KOMPAS
May 14, 2021
WAAR SAL ONS WYSHEID VIND?
May 17, 2021

“Waar sal ons wysheid vind?” het ek in my vorige inskrywing gevra, en gesê dat die eerste tree na wysheid die nugtere, nederige erkenning is dat jy nie weet nie. Maar uiteraard kan dit nie daar eindig nie. As dit gaan oor belangrike kwessies is dit nie genoeg om my skouers op te haal en te sê: “Dis ingewikkeld, ek weet nie!” As dit ál is wat ek doen, is dit nie meer wysheid nie, maar ’n siniese onverskilligheid, ’n manier om te sê: “Dit raak mý tog nie; ek weet nie en ek hoef ook nie te weet nie.”

‘n Tweede tree na wysheid sou dus wees om te sê: “As ek nie weet nie, behoort ek te sorg dat ek ingelig word.” Om weer die voorbeeld van die konflik in Gaza te gebruik: ek kan inligting bekom. Dit sal áltyd deel van wysheid wees om te weet: al is ek ook hoe ingelig, sal daar steeds baie wees wat ek nie weet nie en waarskynlik ook nie heeltemal kan verstaan nie. Ek kan, sê nou maar, moeite doen om te lees wat die mense in Gaza nou ervaar, maar al die leesstof in die wêreld sal my nog nie in die skoene van ’n Palestynse ma plaas nie. Maar laat ek dan ten minste al lesend en luisterend probeer!

Dis net hier waar die probleem inkom. Ons het nie te min inligting nie, maar te veel. En ons weet nie mooi watter inligting betroubaar is en wat nie. Want die mense wat die inligting versprei, het agendas. Hulle wil nie net hê ek moet weet nie; hulle wil hê ek moet kyk soos hulle kyk, dink soos hulle dink. Daarby het ons almal wat die Engelse ‘n “confirmation bias” noem: ons lees of luister graag na inligting wat ons eie sienings versterk en ons vermy inligting wat ons sienings weerspreek. 

Hoe moet ek dan sif tussen al die inligting? Hoe kan ek in Seepunt ooit hoop om tussen alles wat die pro-Palestynse en die pro-Israelgroepe versprei, nader aan die waarheid te kom?

Wysheid, besef ’n mens gou, vra onderskeidingsvermoë. Ek sou selfs sê wysheid is onderskeidingsvermoë. En onderskeidingsvermoë kom nie vanself nie. Dit het ook nie noodwendig met intelligensie te doen nie. Ek ken slim en geleerde mense wat vir my gevoel min onderskeidingsvermoë toon; ek ken ook mense wat nie deurgaan as besonder slim of geleerd nie, maar wie se aanvoeling vir waarheid my beïndruk. 

Onderskeidingsvermoë word aangeleer, in die harde proses van onderskeidings maak, ’n proses waarin ’n mens dikwels die meeste uit jou eie foute leer. Dit is dus die volgende vraag om oor na te dink: Waar en hoe begin ek om ’n gesonde onderskeidingsvermoë aan te leer? 

Daaroor skryf ek volgende week verder, nie as ekspert op die terrein nie, maar eerder as iemand wat nog aan ’t leer is.

 

geskryf deur: Andries Cilliers