
WYSHEID EN MY MORELE KOMPAS
May 14, 2021
WYSHEID EN MY MORELE KOMPAS
May 14, 2021
“Ontsag vir die Here,” sê Spreuke 1:7, “is die begin van kennis.” Die ou 1953-vertaling het gepraat van “die vrees van die Here.” Dit klink vir ’n mens vreemd: hoe kan vrees (of selfs die sagter ontsag) jou tot wysheid lei?
Vrees, sou ek reken, lei dikwels eerder tot dwaasheid. ’n Benoude kat, sê die spreekwoord immers, maak vreemde spronge. Wanneer mense in die greep van vrees is, dink hulle nie helder nie en verloor hulle hulle oordeelsvermoë. Ek self ervaar dit so: Hoe kalmer ek is, hoe makliker kan ek dinge deurdink. Vrees trek my perspektief op dinge skeef, veral op die toekoms.
Ook in verhoudings kan vrees maak dat ek nie kennis opdoen, of wysheid aanleer nie. Dink maar aan ’n kind wat angstig is op skool, wat bang is vir sy onderwyser, wat sit met vrese oor homself en sy vermoëns. Só ’n kind se vrees gaan só verlammend wees dat die kanse goed is dat hy net mooi niks sal inneem nie.
Ek is daarom bly dat die 2020-vertaling gekies het om eerder van ontsag te praat. Ontsag is nie om bang te wees vir God, so bang dat jy wil weghardloop nie. Ontsag is om ’n heilige eerbied te hê vir wie God is. Dié heilige eerbied, sê die Spreukedigter, is die begin van kennis.
Ek dink dit gaan breër as net ons ontsag vir God. Ontsag van God as die Skepper van alle dinge, as die God wat Godself in liefde aan ons verbind het, as ons Verlosser wat ons lewe en toekoms in sy hande hou – dit is inderdaad die begin. Maar moet dié heilige eerbied nie oorvloei na ’n eerbied vir alles wat God gemaak het nie – vir my medemens, vir die wêreld waarin ons leef, vir dit waaroor ek kennis wil verkry nie?
’n Mens kan “Kennis is ontsag” stel teenoor die meer algemene “kennis is mag.” “Kennis is mag” gee die indruk dat die doel van kennis is dat ek iets moet “bemeester” sodat ek in beheer kan wees, sodat ek my kennis ook kan gebruik om baas te speel. So ’n siening van kennis is rampspoedig as dit kom by geloofskennis – want enige idee dat ek God sou kon “bemeester” sodat ék in beheer kan wees, vloek teen die aard van geloof self. Maar dit is ook ’n ellendige siening as dit kom by iets soos mensekennis. Wil ek mense leer ken, die mensdom leer verstaan sodat ek mense kan “bemeester” en oor hulle kan baasspeel?
Ook as dit kom by die skepping is dit ’n ope vraag of dit goed is om aan kennis nét te dink as mag. Dit kan nie ontken word dat kennis van die skepping ons dikwels ook mag gee oor die skepping nie. Hoe beter ons die natuurkragte ken, hoe beter kan ons dit ook inspan tot ons eie voordeel. Ons moderne wêreld is ondenkbaar sonder die mag wat die tegnologie ons gee om die wêreld te verander soos dit ons pas.
My vraag is net of ons nie deur die eensydige siening dat kennis mag is, ons heilige eerbied vir die skepping verloor het nie. As jy kyk hoe die skepping nou lyk, voel dit vir my ons het die skepping verkrag en ons loop gevaar om dit te vernietig. Sou ons nie meer moes maak van ontsag vir die wonder van die lewe, vir die fyn orde wat in ons wêreld lewe moontlik maak, vir die skepping as kunswerk van God nie? Sou daardie ontsag nie verhoed dat ons onsself vergryp aan die skepping nie – net soos my ontsag vir my medemens voorkom dat ek my aan my medemens vergryp nie?
En as ons kyk na die krisis waarin ons vergrype aan mekaar en die skepping ons ingedompel het – moet ons nie weer gaan kyk na Spreuke se aanspraak dat ontsag vir die Here die begin van kennis, die oorsprong van ware wysheid is nie?
Volgende keer dink ons verder daaroor na.
geskryf deur: Andries Cilliers

