
WYSHEID EN VREES
May 14, 2021
WYSHEID EN ONDERSKEIDINGSVERMOË
May 17, 2021
WYSHEID EN VREES
May 14, 2021
WYSHEID EN ONDERSKEIDINGSVERMOË
May 17, 2021
Wysheid begin, het ek twee weke terug gesê, met die erkenning dat ek baie dinge nié weet nie. Dit beteken egter nie dat ek in my onkunde hoef vas te val nie, het ons verlede week gesien. Ons kan onsself inlig – maar die oorvloed inligting waarmee ons gekonfronteer word, vra onderskeidingsvermoë. En dis waar ons verlede week geëindig met, met die vraag: Waar en hoe begin ek om ’n gesonde onderskeidingsvermoë aan te leer?
Steven Covey het geskryf:
“We see the world, not as it is, but as we are – or, as we are conditioned to see it.”
Ons sien die wêreld soos ons is. As ek ’n gewoonteleuenaar is, sal ek geneig wees om te dink ander mense lieg ook. Ek sal sukkel om hulle te glo, selfs al sou hulle die waarheid praat. As ek stories draai soos dit my pas, sonder om my te veel te steur daaraan of my storie waar is of nie, sal ek ook nie kan onderskei tussen waar en vals in dit wat ek lees of hoor nie.
Dit beteken dat my soeke na wysheid en onderskeidingsvermoë by myself behoort te begin. Ek moet die waarheid liefkry, ook wanneer die waarheid dalk ongemaklik is. Ek moet veral daarteen waak om vir myself te lieg net omdat dit dalk vir my gemakliker is om leuens oor myself te glo. Die Russiese romanskrywer Fyodor Dostoyevsky het waar woorde hieroor geskryf:
“A man who lies to himself, and believes his own lies, becomes unable to recognize truth, either in himself or in anyone else, and he ends up losing respect for himself and for others. When he has no respect for anyone, he can no longer love, and in him, he yields to his impulses, indulges in the lowest form of pleasure, and behaves in the end like an animal in satisfying his vices. And it all comes from lying — to others and to yourself.”
Vir my beteken dit dat ek gedurig moet soek na die waarheid oor myself, oor God, oor menswees, oor die lewe en die wêreld. Ek moet myself terughou om nie sommer dinge te sê of oor te vertel as ek nie doodseker is dat dit waar is nie. Dit pla my hoe dikwels Christene vir jou ’n whatsapp sal aanstuur met ’n storie, dikwels sensasioneel, wat jy sommer met ’n stok aanvoel waarskynlik nie waar is nie. Toets jy die storie, kom jy gou agter dit is inderdaad nie waar nie – maar ek het selfs al beleef dat ek vir iemand sê die storie is nie waar nie, en dat daardie persoon haarself vir my vervies het en nogtans die storie verder versprei het, bloot omdat sy wou hê dit moet waar wees.
So gaan ons nie by wysheid uitkom nie. ’n Respek vir waarheid gaan jou nie onfeilbaar maak nie, maar een ding is waar – ek wil amper sê onfeilbaar waar: ’n mens wat nie die waarheid respekteer nie, gaan ook nie groei in wysheid nie.
Volgende week dink ons verder oor wat dit alles met ons geloof te make het.
Geskryf deur: Andries Cilliers

