
WAAR SAL ONS WYSHEID VIND?
May 17, 2021
Ek wil ’n bietjie verder nadink oor die woorde:
“Ontsag vir die Here, is die begin van kennis.” (Spreuke 1:7)
Ontsag, reken ek, is eerbied vir iets se eie aard. Om ’n eenvoudige voorbeeld te gebruik: ek is nou nie eintlik iemand wat gereedskap bymekaarmaak (of kan onthou waar ek my gereedskap gebêre het nie). Daarom gryp ek dikwels, wanneer ek iets skielik moet doen, na die eerste ding wat voor hande is. Ek sal, byvoorbeeld, probeer om ’n skroef in te draai met ’n groentemessie. Die resultaat is gewoonlik dat die indraai ’n gesukkel is en die groentemessie stomp of selfs punt-af is. Omdat ek nie die eie aard van die skroef en die groentemessie gerespekteer het nie, het ek ’n gemors aangevang. Dit is dwaasheid.
Nog ’n voorbeeld: ek kan besluit ek wil iemand se geheime ontdek. Dalk is ek ongeduldig en gewetenloos daarby. Ek doen wat die kroeks dikwels in flieks doen: ek bind die ou vas, sit hom onder ’n sterk lig, dreig hom met allerhande dinge, slaan hom self. Dalk kan ek op dié manier ’n paar goed uit hom kry. Maar een ding is seker: ek gaan nie naby sy diepste geheime, sy eintlike menswees kom nie. Ek gaan, al sou hy my vertel wat ek wil hoor, hom niks beter verstaan as vroeër nie. Waarskynlik wil ek ook nie. Maar ook dit, sou ek reken, is dwaasheid.
Hoe anders is dit as ek ’n mens regtig wil leer ken en verstaan. Dit vra respek en geduld en nederigheid. Dit beteken dat ek tyd en moeite met daardie mens moet doen; dat ek moet luister met my volle verstand en my hele hart. Ek kan hom nie oopdwing asof hy ’n halstarrige sardientjieblik is nie.
Om so te probeer verstaan, is wysheid.
As dit waar is van ons verhouding met mekaar, dan is dit nog oneindig meer waar van ons verhouding met God. God, herinner Prediker 5:1 ons, is in die hemel en ons is op die aarde. God is anders as ons. As ons nie ’n respek vir God se grootsheid het, vir God se andersheid en God se heiligheid nie, gaan ons nooit vir God leer ken nie. God is nie ’n gogga wat ons onder ’n mikroskoop kan beskou, of ’n dingetjie wat ons kan dissekteer nie. God is nie ’n probleem wat ons moet probeer oplos nie. God is ’n persoon wat ons ontmoet, wat ons leer ken. God is ’n geheimenis waaroor ons ons verwonder, waarvoor ons in nederigheid buig.
Dis wanneer ons só voor God kom, dat ons iets begin verstaan van wie God is. Ek glo wysheid werk so: hoe meer ek God leer ken, hoe dieper word my ontsag vir God; hoe dieper my ontsag vir God word, hoe beter leer ek God ken.
En dit, sê die Spreukedigter, is waar kennis begin; dit is waar wysheid sy oorsprong het. Volgende keer vra ons: Hoe lyk die wysheid wat begin met ontsag vir God? As dit daar sy eerste treë gee, hoe lyk wysheid se pad verder?
geskryf deur: Andries Cilliers






